Beheerliggaam
Die skool se Beheerliggaam moet die skool se belange bevorder en seker maak dat die skool sodanig ontwikkel dat die lewering van kwaliteit onderwys aan alle leerders verseker word. Die Beheerliggaam moet:
- Deelneem aan die ontwikkeling van die visie en missie van die skool.
- Die hoof, opvoeders en ander personeel verbonde aan die skool ondersteun in die uitvoering van hulle professionele pligte.
- Aanbevelings maak t.o.v. die aanstelling van opvoeders.
- 'n Rooster vir die skooldag vasstel volgens die toepaslike diensvoorwaardes.
- Beleide vir die skool vasstel, veral aangaande toelatings, godsdiens en taal.
- Toepaslike skooldrag daarstel.
Die beheerliggaamslede bestaan uit die hoof van die skool, verkose ouerlede, verkose opvoederlede en verkose administratiewe lede. Lede word vir 'n tydperk van drie jaar verkies.
ONS BEHEERLIGGAAMSVOORSITTER Sê:
By Laerskool Horison is dit ons strewe en visie om vir ons kinders 'n milieu te skep waarbinne hulle met geborgenheid en op pad na intellektuele, emosionele, geestelike en fisiese verantwoordelikheid en volwassenheid begelei kan word. Dit kan ons slegs bereik indien ons binne 'n eie kultuur-, taal- en godsdiensverband, voortreflike en relevante opvoeding en onderwys daar kan stel. Dit is voortdurend ons motivering t.o.v. alle besluite wat geneem word.
In die lig van huidige veranderinge is dit van uiterste belang dat Skrifgefundeerde waardes en norme die fondasies van ons kinders se leefwereld by die skool vorm. Dit noop ons om met omsigtigheid personeelaanstellings te maak en te let op die aard van ons kultuur- en sportbeoefening.
Dit is dus vir ons belangrik dat elke leerder die geleenthede gebied moet word om as totale persoon gestimuleer en ontwikkel te word, terwyl daar 'n balans tussen die verskillende fasette van akademie, sport en kultuur gehandhaaf word.
Individuele aandag bly 'n kardinale behoefte by elke kind en daarom poog ons as beheerliggaam om klasgroottes te beheer d.m.v. kontrakpersoneel wat addisioneel tot die onderrigkorps bygevoeg word.
Opvoeders word gekies om effektief aan elke kind se unieke behoeftes te voldoen en om saam te werk tot die bereiking van elke kind se optimale potensiaal.
Ons is dankbaar vir elke persoon wat 'n positiewe bydrae lewer tot die visie en doel van die skool en ons is trots op elke leerder wat sy/haar talente ontwikkel deur die fasiliteite en vermoens soos deur Laerskool Horison aangebied.
Ons stel onsself diensbaar en tot beskikking van ons gemeenskap tot voordeel van ons mees kosbare "besittings": Ons kinders!
Kom werk en bou saam met ons opvoeders en leerders om 'n voorspoedige toekoms vir ons almal daar te stel!
VISIE & MISSIE:
Visie
Om die mees effektiewe onderrig en opvoeding te lewer in alle fases van onderrig met die doel om die leerder in sy totaliteit te vorm. Daar sal steeds gestrewe word dat ewewig en sukses op alle terreine behoue bly.
Missie
Om aan leerders superieure onderrig te verskaf deur middel van 'n spesialis akademiese personeel en kurrikula terwyl die fondament van soliede religieuse waardes behoue sal bly en vryheid van spraak aangemoedig word. Daar sal ook gepoog word om die besef van selftrots en gemeenskapsverantwoordelikheid in die leerder in te boesem.
Ons sal dus streef na:
- Die verskaffing van voortreflike, relevante opvoeding en onderwys in Afrikaans vanuit die volkseie kultuurmilieu met inagneming van ander kultuurgroepe wat in ons skool mag wees.
- Die handhawing van die hoogste moontlike onderwysstandaarde op 'n gedifferensieerde basis deur 'n hoogs bekwame, opgeleide onderwyskorps.
- Die handhawing van 'n gesonde balans tussen akademiese, sport, kulturele en geestelike ontwikkeling
DISSIPLINÊRE STELSEL:
Ons stelsel vir dissipline is gebaseer op Bridget Thompson se stelsel. Hierdie stelsel word met groot sukses aangewend, veral ook omdat dit positiewe versterking as vertrekpunt huisves. Onder beproefde beginsels uit "Parent Effectiveness" en "Teacher Effectiveness" teorieë word ook in ons stelsel geïnkorporeer.
